top of page
PREV-28.jpg
PREV-26.jpg
PREV-27.jpg
PREV-29.jpg

Ons Storie

Net toe ons gemaklik begin raak het met mekaar, het die groot "flu" (COVID-19) ons lewens verander en ons maande lank binne die mure van ons huise en streke vasgekeer. Nou ja – as jy al ooit probeer het om ’n verhouding te bou oor WhatsApp-boodskappe en video- oproepe, dan sal jy die frustrasie verstaan.

Nietemin, het ons nooit moed opgegee nie. Elke boodskap en elke oproep wat tot in die vroeë oggendure geduur het – tot die voëltjies se fluit ons herinner het dat dit tyd is om “nag” te sê – het ons mekaar se drome, belangstellings, vrese, en selfs die kommie- kronkels leer ken wat ons tot op hierdie punt gebring het.

 

Op ’n sonskyn dag in Desember 2020 – amper presies ’n jaar na ons eerste ontmoeting – het ons in ’n Cessna 172 bo die wolke ons storie “gecase”. So het ons aan ons eerste hoofstuk begin skryf.

Ons het vir die volgende drie jaar in die pragtige Stellenbosch gebly. Tussen die berge en wingerde het ons liefde vir mekaar net dieper geword. Ons het geleer, gekuier, gelag, en gehuil.

 

Ons het herinneringe geskep wat soos sonlig in ons harte skyn – en selfs die donker dae het hul plek gevind in ons verhaal.

Ons het ons grade verwerf, prestasies behaal, en selfs ’n motorongeluk oorleef. Van oomblikke gevul met lag tot tye van trane – elke herinnering het ons nader aan mekaar gebring.

Later is ons terug na ons moederland, Namibië, waar ons elkeen ons professionele loopbane begin het – Megan in Windhoek, Wynand in Walvisbaai. Hier het ons weer onsself fisies ver van mekaar af gevind – maar hierdie keer met ’n band wat onbreekbaar is. Die afstand was moeilik, maar dit het ons net verder versterk in die wete dat ons nie sonder mekaar wil leef nie.

 

 

En so, op 20 Julie 2024, op ’n Saterdagmiddag in ’n kunsateljee in Swakopmund, het Wynand die groot vraag gevra – en ons het die knoop vasgemaak.

Nou wil ons die grootste dag van ons liefdesverhaal saam met ons geliefde familie en vriende vier, wanneer ons ons belofte aan mekaar voor God aflê. Dit is hier, waar ons op trou staan, dat ons saam die volgende hoofstuk van ons lewe binnegaan – gereed om die res van ons lewens saam te spandeer.

Ons is só opgewonde om hierdie spesiale dag met julle te deel en sien opreg uit daarna om julle almal te verwelkom – en ons liefde te vier – op 25 Oktober.

 

 

Liefde
Wynand & Megan

bottom of page